Pypleiding

'n Pypleidingstelsel bestaan uit ʼn netwerk van pype met bybehorende pompe, klappe en meet- en beheerstasies. Dit word vir die vervoer van gasse, vloeistowwe en selfs ook vaste stowwe gebruik. In die vervoerwese het pypleidings reeds 'n belangrike plek ingeneem. Afhangende van die doel waarvoor dit gebruik word, word die pype van ʼn verskeidenheid materiale vervaardig, onder meer staal, gietyster, aluminium, koper, geelkoper, keramiek, beton of kunsstowwe.

Die term pypleidings word gebruik vir sowel die pypnetwerke vir langafstandvervoer as die vervoer van stowwe in byvoorbeeld 'n fabriek. Die oliemaatskappye en chemiese nywerhede bestee groot bedrae geld aan die aanlê en die instandhouding van pypleidings. Veral as gevolg van byvoorbeeld die stygende brandstofpryse word pypleidings al hoe meer ʼn alternatief vir vervoer per skip, vragmotor of trein. Pypleidingvervoer bied veral die voordeel dat vervoer ononderbroke kan plaasvind en dat opgaarplekke onnodig is aangesien die vloei van stowwe volgens aanvraag beheer kan word.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search